ADVERTISEMENT:

 
 

Wyle Shaun Robert O’Connor (48).

Hartseer vaarwel aan Shaun

 

Net sy passie vir sy gesin het sy passie vir sy werk as lid van 3 Versieningseenheid (ASU) op LMB Makhado oorskadu.

Dit is hoe baie vir sersant-majoor Shaun Robert O’Connor sal onthou. Hy is verlede Donderdag, 17 Julie, in die ouderdom van 48 jaar na ‘n maande-lange siekbed in 2 Militêre Hospitaal in Kaapstad oorlede. Hy het vir ‘n geruime tyd ernstig gesukkel met lewerprobleme, wat orgaanversaking tot gevolg gehad het. 

Shaun het sy loopbaan in 1984 in die Suid-Afrikaanse Lugmag begin, omdat dit hom nader aan sy passie vir vliegtuie gebring het en veral sy liefde vir 'vlamgatte', soos wat hy na die lugmag se straalvliegtuie verwys het.

Ná sy opleiding aan die lugmagkollege in Pretoria is hy na die Pietersburg Lugmagbasis, waar hy onder meer aan die lugmag se Cheetas "gekarring" het, soos hy na sy werk verwys het. Dit is ook hier waar hy en sy vrou, Aldi, hulself gevestig het voordat hulle in 1993 na die Louis Trichardt Lugmagbasis, nou LMB Makhado, verhuis het. In 2007 het die O'Connor-gesin van die basis na die dorp verhuis.

Shaun was betrokke by verskeie sportklubs van die dorp en lugmag, wat onder meer krieket, rolbal, pluimbal en fietsry ingesluit het. In krieket het Shaun vir die dorp se A-span gespeel tot 2004, maar dit was met rolbal waar hy uitgeblink het en provinsiale kleure verwerf het. Shaun het Limpopo rolbal verteenwoordig by die jaarlikse inter-distrikte toernooie vanaf 2009 tot 2013, voordat sy gesondheid dit nie meer toegelaat het nie.

Shaun word oorleef deur sy vrou Aldi, seun Patrick, sy ouers Claudine en Des van Gansbaai, twee susters Michéle en Jacqui van Kaapstad, en 'n broer Desmond, van Port Elizabeth. Hy sal Vrydag, 25 Julie, om 11:00 met volle militêre eerbewys vanuit die kapel op LMB Ysterplaat in Kaapstad begrawe word.

 

Date:25 July 2014

By: Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Read: 354

 

ADVERTISEMENT

 

ADVERTISEMENT:

ADVERTISEMENT:

 

Recent Articles

ADVERTISEMENT